|
Written by Roelien Vorster - Friday, 30 July 2010 00:00
|
|
LYDENBURG - Dit gons in ‘n rustige buurt van dié dorp nadat sowat 76 honde die week met groot magsvertoon by ‘n huis verwyder is. Die honde se toekoms is in die weegskaal nadat die polisie, verkeersdepartement, staatsveearts, die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) en verskeie lede van Witrivier Dierebeskermings-vereniging (DBV) klagtes van bure ontvang het oor die onhigiëniese toestande en rusverstoring op die erf. Met aankoms by Snymanstraat 30, het talle honde van verskillende kruisings Laevelder begroet en die erf was besaai met stukke bene. Insp. Petro Oosthuizen van die Laeveld DBV in Witrivier en mnr. Anton du Bruyn van NDBV het eers aan die eienaar van die huis, me. Carin Geldenhuys se deur gaan klop, maar dié was nie tuis nie en lede van die verkeersdepartement is aangesê om haar by die werk te gaan haal. Binne-in die huis het chaos geheers. Hondebene en hondekos het tussen die honde se ekskresie gelê. Van die waterbakke was leeg terwyl die ander bakke se water groen was. Hoewel die honde goed versorg gelyk het, is van hulle blind en ander het vergroeisels op hul oë gehad. Met Geldenhuys se aankoms het Du Bruyn aan haar verduidelik dat hy 'n hofbevel het wat hom die reg gee om die honde te verwyder. Sy het aanvanklik in die huis gestap en gedreig dat sy haar honde en haarself gaan skiet. Die polisie het haar vuurwapen gekonfiskeer en Geldenhuys het toe gedreig dat sy haarself gaan skiet. "Hulle wil my honde vat. Hulle (die honde) is gelukkig hier en versorg, nou gaan hulle doodgemaak word," het sy gesê. Die hoof van verkeer, mnr. John Roos sê dat daar verkieslik nie meer as twee honde per huisgesin aangehou moet word nie omdat dit 'n steurnis is en 'n gevaar vir ander mense kan inhou. "Ons het al in die verlede teen die vrou opgetree en het toe ook 55 honde verwyder en die Witrivier DBV het 'n waarskuwing teen haar uitgereik. Sy het baie aggressief geraak, en toe ook van die verkeersbeamptes gedreig. In die toekoms gaan daar baie strenger opgetree word teenoor enige iemand wat die munisipale by-wette verontagsaam. Ons gaan voortaan een mondelinge waarskuwing uitreik en daarna slegs een skriftelike waarskuwing. Indien die inwoner nie dadelik optree nie, kan ons 'n boete tot en met R3 000 gee." Volgens Roos gaan die DBV haar vervolg. Sy kan aangekla word van rusverstoring, onhigiëniese toestande van die erf en huis asook dat sy honde geherberg het. "Die munisipale by wette lees dat enige een met meer as vier honde op ‘n eiendom as 'n hondeherberg geag word en sekere vereistes dan volhou moet word, soos om behoorlike hondehokke te hê. Ons wil dit egter duidelik maak dat niemand vir haar enige honde mag gee nie. Haar perseel is nie geskik vir so ‘n groot hoeveelheid honde nie." Roos sê die by-wette word tans hersien en gewysig en sal na die provinsiale raad vir goedkeuring gestuur word. Volgens Du Bruyn kan die NDBV egter nie veel meer kommentaar lewer nie aangesien 'n verslag eers opgestel moet word. "Al wat ek nou kan sê is dat die honde in haglike en onhigiëniese toestande, wat nie aanvaarbaar is vir enige hond nie, gebly het." Volgens Oosthuizen is heelwat babahondjies ook onder die gekonfiskeerdes. "Die hartseer van die saak is dat soveel van die honde bang was en duidelik nie gewoond aan individuele aandag is nie. Hulle was glad nie mens-mak nie. Daar kan op dié stadium nie veel gesê word oor die honde se toekoms voordat die verslag nie aan die NDBV gestuur is nie."
|