Lowvelder on WOMF™
 
Bloedbad by seun se 18de PDF Print E-mail
Written by Anne-Lizé van Vuuren - Monday, 08 March 2010 16:42   
LYDENBURG - ‘n Man is na ‘n soektog van bykans 24 uur aangekeer nadat hy Saterdagaand glo eers sy vrou se vriendin afgemaai en haar toe ernstig gewond het.
Die voorval het boonop tydens sy stiefseun se 18de verjaardagpartytjie ten aanskoue van ‘n saal vol gaste plaasgevind. ‘n Span polisielede van Lydenburg het hom uiteindelik laat Sondag in Witrivier aangekeer waar hy in ‘n  huis in Frank Townsendstraat gelê en slaap het.
Me. Litasha van der Walt (25) het met haar lewe geboet nadat sy glo wou keer dat die verdagte sy vrou, me. Daleen Potgieter (37), skiet. Sy is  in ‘n bedenklike toestand in Eugene Marais Hospitaal in Gauteng opgeneem nadat hy haar oomblikke later gewond het. Volgens 'n gas by die partytjie, wat op die eerste verdieping van die Trout Inn-restaurant in Potgieterstraat gehou is, het hulle die vermeende moordenaar (51), wat tot onlangs as elektrisiën in Irak gewerk het, deurgaans opgemerk.
Hy het klaarblyklik ‘n moedswillige houding ingeneem en deurentyd ballonne by die partytjie met ‘n brandende sigaret geprik. Hy het Potgieter, van wie hy vervreem is, probeer oortuig om saam met hom na buite te gaan. Sy het geweier.  Nadat hy weer ‘n ballon gebars het, het hy op haar en Van der Walt losgebrand.
Een van die meisies wat die voorval aanskou het, het vertel sy het gesien hoe die man die vuurwapen, ‘n .38-rewolwer, op Potgieter rig. Van der Walt, wat ook saam met Potgieter gewerk het, het die man probeer keer, waarna hy haar koelbloedig doodgeskiet het.
Potgieter is hierna van agter in die rug geskiet toe sy met die trappe af probeer vlug het. Mnr. Bart de Beer van Medi-Respons was na etlike minute op die toneel, waar Van der Walt dood verklaar is. Potgieter is aanvanklik deur Medi-Respons na die Lydenburg Hospitaal geneem, maar is later oorgeplaas na die Eugene Marais Hospitaal in Pretoria. Sy is reeds geopereer en in 'n stabiele toestand. Haar ma, me. Susan Labuschagne, het laat weet sy het ook lewerskade opgedoen en verkeer in geweldige pyn.  
Die moordwapen is later deur die polisie aan die onderkant van die trappe gevind. Die man het van die toneel gevlug. Omstanders het gehoor hoe hy dreig om haar kinders ook te skiet. Sy het reeds verlede Maart 'n interdik vir gesinsgeweld teen haar vervreemde man gekry. Na bewering het hy aan die  polisie erken dat sy verlede week egskeidingsdokumente op hom bestel het en dit hom laat knak het.  
Die verdagte is Sondag omstreeks 21:30 deur agt van Lydenburg se polisielede in Witrivier aangekeer.  Die man het in ‘n kamer gelê en slaap en was glo erg onder die invloed van drank. Hy het homself nie teen die arrestasie verset nie. Die vuurwa-pen was nie in sy naam geregistreer nie. Die polisie het intussen beslag gelê op ander onwettige wapens en ammunisie wat op die plafon van sy huis in Schoeman-straat in Lydenburg versteek was. Die verdagte se naam word weerhou omdat hy nog nie in die hof verskyn het nie.  Ooggetuies word versoek om insp. Thomas Motau te kontak by 082-683-3794.
 

Add your comment

SmileCoolCrying or Very SadEmbarrassedA Smoker/Foot in mouthSadUser is an angel (at heart, at least)A Kiss/Lips Are SealedLaughingBiting one's tongue/Put Your Money Where Your Mouth IsBeen Smacked In The Mouth/Wears A Brace/My lips are sealeSurprisedSticking Out TongueConfusedWinkYelling
Your name:
Your email:
Subject:
Comment:
  The word for verification. Lowercase letters only with no spaces.
Word verification:
Banner