|
Written by Gerhard Rheeder - Monday, 08 February 2010 16:58
|
NELSPRUIT - "Hoe gouer ons uit Nelspruit kom hoe beter," het Laevelder me. Karen Bezuidenhout Maandag aan haar bediende hoor sê na nóg ‘n inbraak by die Shandon-huis waar haar man Bossie, verlede Saterdag tydens ‘n rooftog doodgeskiet is. Mens verstaan haar gevoelens na ‘n ronde deur die moordhuis waar sy wys "daar het ons gesit, daar het hulle ingekom, daar is my man dood..." Die egpaar en hul twee kinders sou verlede Saterdag die eerste maal in hul "droomhuis" oornag, maar die gelukkige aand het in ‘n bloedbad ontaard toe Bezuidenhout teen soveel as drie aanvallers moes baklei vir sy gesin se veiligheid. Die vermoede bestaan dat Bezuidenhout se moordenaars die afgelope naweek teruggekeer het na die huis om hul strooptog voort te sit. Teen etenstyd Maandag was speurders besig om die bebosde areas om die huis te fynkam nadat ‘n rekenaar se hardeskyf, wat die naweek nog in die huis toegesluit was, in die veld gevind is. Mnr. Bezuidenhout se ma Tina, het Maandag-oggend tydens ‘n besoek aan die huis, gemerk dat dinge nie pluis is nie. Sy het van buite gesien dat van die bokse in die huis oopgeskeur is en dadelik vir me. Bezuidenhout geskakel met die nuus dat daar wéér toegeslaan is. Die Bezuidenhouts is in die proses om te trek en hul gepakte besittings staan in die woning waar me. Bezuidenhout sukkel om in te gaan. Sy sê dat haar dogtertjie Lauren (5) wat, soos haar boetie Jarrod (11), tuis was toe hul pa vermoor is, dadelik begin skreeu het dat "die boosdoeners vir ouma gaan skiet". Lauren se vrese dat haar ouma ook vermoor sou word is eers besweer toe Karen haar verseker het "ouma is in die motor". Die vermoede bestaan dat die booswigte moontlik Saterdag toegang tot die huis verkry het deur ‘n venster in die onderste vlak van die huis. Bure van die Bezuidenhouts glo dat die inbraak Saterdagaand plaasgevind het omdat ‘n alarm kort na middernag aktief gestel is deur beweging. Die diewe het hulle tyd geneem om deur die Bezuidenhouts se besittings te sif terwyl hulle hul aan mnr. Bezuidenhout se drank vergryp het. Hulle het gefokus op elektroniese ware soos TV’s, en beide die kinders se radio’s gebuit saam met tientalle DVD’s en CD’s wat uit die kassies verwyder is. Die gesin sal teen die einde van die week weer sak en pak terug wees in Pretoria waar hulle sal poog om vas te stel wat vermis word soos wat hulle uitpak. Bezuidenhout was ‘n boorling van Nelspruit en kon nie wag om sy gesin in Nelspruit te hervestig nie. Hy het juis op Shandon Landgoed besluit omdat sy gesin se veiligheid vir hom belangrik was. "Ek sê vir die kinders dat Bossie ons beskerm het en dat hy ons hero is" het me. Bezuiden-hout gesê. Soos vir Bossie, kom die kinders se veiligheid eerste vir Karen en sal sy eers gerus wees sodra sy Nelspruit vaarwel toeroep.
|
Tot vandag toe het ons nog niks oor die moord gehoor nie. Die moordenaar/s is weg met sy voertuig en paar goed wat hulle gesteel het.Dis aardse goed; niks kan hom weer terug bring nie.
Ons is saam die Bezuidenhouts hartseer en weet hoe dit voel; ons is ook daardeur
Sterkte vir jou en jou kinders