|
Written by Lowvelder Editor - Tuesday, 09 February 2010 00:00
|
|
NELSPRUIT - Die hare gaan waai. Op Vrydag 5 en Saterdag 6 Maart vind die jaarlikse KANSA Shavathon in Suid-Afrika plaas. Op die datums kan jy óf by jou werk óf by die naaste winkelsentrum wys jy ondersteun die geveg teen kanker deur al die hare op jou kop af te skeer of, as jy te lief is vir jou hooftooisel, eerder jou hare met skakerings van heldergroen en oranje verf. Shavathon vind vanjaar vir die sewende agtereenvolgende jaar in meer as 300 werksplekke en 150 winkelsentrums dwarsoor die land plaas. Volgens me. Sue Janse van Rensburg, KANSA se hoof uitvoerende beampte en kankeroorlewende, wys ons ons ondersteuning vir die stryd teen kanker, vier ons die lewe van kankeroorlewendes en gedenk ons geliefdes wat aan kanker beswyk het deur ons hare te skeer of te laat kleurspuit. Dit kos R50 as jy ouer as 12 is om jou hare te laat skeer of te spuitverf en R25 as jy jonger as 12 is. Maar die geld gaan nie aan die haarkapper nie, dit word aan KANSA geskenk om hulle te help om noodsaaklike dienste te lewer. Hierdie dienste sluit voorkoming en opleidingsprogramme, pasiëntsorg en ondersteuning, steunsentra, mediese toerustinghuur, tolvrylyne en ondersteuning aan kinders en hulle families wat deur kanker geraak is in. Die sukses wat tydens 2009 se Shavathon behaal is sal moeilik herhaal word, maar KANSA moedig alle Suid-Afrikaners aan om die geleentheid te ondersteun. Werksplekke kan as gasheer optree vir 'n KANSA Shavathon-geleentheid by hulle kantore op die Vrydag, of jy kan die Saterdag by jou naaste winkelsentrum gaan deelneem. Die 2009 Shavathon het meer as R6 miljoen ingesamel, waarvan 75 persent aan KANSA voorsien is. Die 2010 Shavathon beloof om een van die grootste Shavathons nog te wees. Belangstellendes kan op die Shavathon-groep op Facebook gaan loer vir die nuutste inligting en na www.shavathon.org.za gaan om te registreer as 'n werkplek wat 'n shavathon gaan aanbied. Navrae: Margie Laubscher by 011-616-7662 of op e-pos by
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Die volgende Laeveldse sentrums sal Shavathons op Saterdag 6 Maart aanbied • Jock of the Bushveld Pick n Pay-sentrum - Barberton • Numbi Hotel - Hazyview • SPAR - Komatipoort • SPAR - Lydenburg • Ekwezi Sentrum - Malalane • Riverside Mall - Nelspruit • The Grove - Nelspruit • Sonpark - Nelspruit • Sabie Hair Studio - Sabie • Skukuza Ruskamp - Skukuza • Casterbridge - Witrivier.
|