Lowvelder on WOMF™
 
G'n geregtigheid anderkant grens PDF Print E-mail
Written by Henning Janse van Vuuren - Thursday, 04 February 2010 16:16   
So ‘n jaar of wat gelede gaan verken ek en drie vriende ook Mosambiek.
Ons het paspoorte, permitte, plakkers en versekering teen alles, selfs malaria. Sedig en bedaard deur die Giriyondo-grenspos, stadig deur die Groter Limpopo-oorgrenspark (eintlik beesplaas), verby Massingir tot in Praia do Bilene. Daar gekom kruie ons rustig deur 'n dorpie,
wel... ons interpretasie daarvan en hou langs 'n lagune stil. Hier merk ons 'n uitlokkende, tweespoor-sandpaadjie wat volgens berekening vyf kilometer verder weer by die hoofpad moet aansluit. So
50m verder lê daar twee skuite weerskante van die paadjie met 'n dik tou tussenin gespan en enkele plaaslike inwoners onder die koelte van 'n boom.
Konsensus onder die meerderheid van die groep is dat die tou waarskynlik as 'n kontrolehek funksioneer en ons ry nader om te hoor of ons wel die paadjie mag gebruik. Inderdaad, beaam die man en maak sy prys vir die twee voertuie.
As minister van finansies en in beheer van fiskale dissipline, keur ek die verkwisting van kontant op dag een van ons reis af, en groet beleefd. Aha! en so begin die sports! Twee plaaslike inwoners spring op beide kante van die voertuie, klets in opruiende Portugees op hul selfone en deel ons kortliks mee dat ons onder arres is. Geen aanstellingsertifikate word getoon of regte voorgelees nie. In verslete klere en met breë glimlagte hang hulle soos swape uit die vervloë Bollie en beduie Maritieme-hof, Bilene se kant toe.
Maar ons verset onsself, ons laat ons nie sommer net vertel nie en hou stil om eers te koukus. 'n Paniekerigheid vat onder die geregsdienaars (?) plaas, maar nie lank nie of 'n Vespa met twee manne in uniform daag op. So moet ek dan ook vir die een genaamd Vladimir spasie tussen my yskas en slaapsak inrig, want die Vespa-bestuurder moet hom haas na 'n volgende misdaadtoneel.
Al die pad terug dorpie toe.
Die hof is 'n vuil, leë vertrek met so nege mense teenwoordig, iets soos 'n Amerikaanse jurie; allerhande uniforms en ook siviele drag, die wysgere van die dorp en so, vermoed ek.
Buite wag jy jou beurt af en gevonniste misdadigers voor ons in die ry kom met leë beursies terug.
Ernstig. Eers binne is tolke en dies meer totaal onnodig, dit word met 'n veraf trek in die oë en 'n lui handgebaar afgemaak as pure onbenullighede.
Verrigtinge geskied in Portugees. Verrigtinge waarin jy grotendeels geen rol speel nie.
Aanvanklik was die vonnis Mt18 000,
(R6 000) per voertuig. Drie ure later en met die belofte dat ons vandag ons les behoorlik geleer het, koop ons net vir almal koeldrank; tot groot ontsteltenis van die strandpolisie.
Die week daarna was ongelooflik met geen verdere onderonsies met die gereg nie.
Die land is asemrowend mooi. Dit is 'n Afrika-land... soos Suid-Afrika.
 

Add your comment

SmileCoolCrying or Very SadEmbarrassedA Smoker/Foot in mouthSadUser is an angel (at heart, at least)A Kiss/Lips Are SealedLaughingBiting one's tongue/Put Your Money Where Your Mouth IsBeen Smacked In The Mouth/Wears A Brace/My lips are sealeSurprisedSticking Out TongueConfusedWinkYelling
Your name:
Your email:
Subject:
Comment:
  The word for verification. Lowercase letters only with no spaces.
Word verification:
Banner