|
Written by Administrator - Friday, 29 January 2010 08:01
|
|
NELSPRUIT - Die seun van ‘n gerespekteerde polisiesuperintendent en sy makker is verlede Donderdag elk vir 25 jaar tronk toe gestuur nadat hulle ‘n 15-jarige meisie in Junie 2005 om die beurt in ‘n beboste area van KaBokweni verkrag het. Bonginkosi Ubisi en Luazi Ngomane is elk op twee klagtes van verkragting skuldig bevind deur land. André Geldenhuys, nadat me. Elize du Plessis namens die staat hul skuld bo enige twyfel kon bewys, hoewel beide verkragters van hul swygreg gebruik gemaak het. Die staat het gepoog om die mans op drie verkragtingklagtes elk te vervolg, maar die slagoffer was nie daarvan oortuig dat beide haar drie maal verkrag het nie, hoewel sy weet dat ten minste een homself ‘n derde keer aan haar opgedring het. Geldenhuys was daarvan oortuig dat beide mans haar elk twee maal verkrag het en het elk op twee klagtes van verkragting skuldig bevind, die klagte teen elk saamgevoeg en ’n eenmalige vonnis van 25 jaar aan beide opgelê. Volgens die slagoffer het sy en haar jonger suster langs die pad geloop toe ‘n donker voertuig met ‘n Nike-plakker agterop langs hulle stilgehou, een van die insittendes uitgespring en die meisie met ‘n wapen die motor ingedwing het. Die jonger suster is deur die verkragters agtergelaat en daar is met die slagoffer na ‘n nabygeleë bos gery waar beide mans haar ten minste twee maal elk sonder toe-stemming gepenetreer het. Na die daad, wat geklassifiseer word as ‘n bendeverkragting, is die meisie weer die voertuig ingedwing en "in die middel van nêrens soos ‘n hond langs die pad afgelaai". Sy het terwyl hulle gevlug het, die plakker gewaar en ook ‘n goeie beskrywing van die motor gekry. ‘n Gemerkte Mbombela-bakkie het eerste tot haar redding gekom, haar opgelaai en die verkragters agtervolg tot waar die Samaritaan ‘n polisievoertuig gewaar het. Die polisie het die verkragters verder agtervolg tot by ‘n sjebeen in KaBokweni waar Ubisi gearresteer is met twee meisies langs hom in die motor. Ook húlle het nie die mans geken nie en was verlig toe die polisie hulle van ‘n moontlike verkragting gered het. Tydens ondervraging het die polisiemanne gemerk Ubisi vroetel aan sy T-hemp en onder ‘n lig was dit duidelik dat daar bloedspatsels aan was. Die kledingstuk is vir forensiese toetsing gestuur wat bevestig het dat dit die bloed van die slagoffer was. Ngomane kon nie in die sjebeen opgespoor word nie en is later aangekeer. Hy is ook positief tot die verkragtings verbind deur sy DNS. Insp. Hilda Mbuli van die ontbinde Kinderbeskermingseenheid (KBE) het die saak ondersoek en haar speurwerk het daadwerklik tot die vonnisse bygedra. Mbuli se volledige dossier is met die ontbinding van die KBE aan KaBokweni se polisie oorhandig wat gesorg het dat dit betyds by die hof vir die verrigtinge was. Kapt. Whiskey Shabangu het volgens die aanklaerskantoor ook gul tot die vonnis met sy onfeilbare getuienis bygedra. Volgens dié kantoor is dié suksesvolle saak ‘n klinkklare bewys dat die KBE weer op die been gebring moet word, omdat dit duidelik is dat die polisiebeamptes wat aanvanklik betrokke by die saak was, se goeie werk eiehandig tot die vonnisse gelei het. Die planne is ter tafel gelê om die eenheid weer in te stel, alhoewel dié nodige stap nog slegs in die onderhandelingstadium is. Suid-Afrika het die hoogste kinderverkragtingstatistieke ter wêreld. By meer as 40 persent van die insidente wat aangemeld is, is kinders onder die ouderdom van 18 betrokke. Die polisie het tans slegs een forensiese maatskaplike werker wat met die wetenskaplike evaluasies van mishandelde kinders gemoeid is. Gevolglik geniet honderde sake min of geen aandag nie wat lei tot kommerwekkende lae suksessyfers in Suid-Afrika se howe.
|