|
Written by Irma Green - Friday, 22 January 2010 07:46
|
Daar is ‘n vuurwarm pot op die vuur en hy dreig om oor te kook. Gemoedere loop hoog nadat die plaaslike ANC Jeugliga hierdie week gedreig het om van joernaliste ontslae te raak wat natuurlik ‘n deuntjie sing wat hulle nie wil hoor nie. Ons Grondwet is baie duidelik oor die vryheid van spraak en gee nie net die media nie, maar ook individue die reg op vryheid van uitdrukking. Hierdie belangrike deel is egter nie ‘n oop uitnodiging aan ‘n ieder en ‘n elk om geweld aan te jaag, haat te verkondig of enigiemand aan te hits om leed te veroorsaak nie. Maar die ANC Jeugliga dink seker hulle is verhewe bo die wet, net soos diegene wat voortgaan met praatjies van ‘n sogenaamde lys wat kwansuis van kant gemaak moet word. Tot die nasionale media het hierdie week op die provinsie neergesak om die oorsprong van so ‘n lys op te spoor. En natuurlik nie om dowe neute nie, want almal wil graag weet wie die verslaggewers is wat oor hul skouers moet loer. Hierdie taktiek is daarop uit om vrees by joernaliste in te boesem en hul bang te maak om stories te publiseer wat natuurlik hoë bome ongemak kan veroorsaak. Skiet die boodskapper, dis die maklikste. Elke jaar sterf honderde joernaliste (die meeste uit kommunistiese en Afrika-lande) wat nie geskroom het om die waarheid te publiseer nie. Dit is ‘n hartseerdag vir enige land as die waarde van vryheid van die pers nie meer geskat word nie. Dit is nog erger dat ons land se hoogste gesag geen woord rep of ‘n vinger verroer om hierdie sogenaamde hit list-opstellers aan die kaak te stel nie. Hoe anders moet ons die stilswye interpreteer as dat hulle nie werklik ‘n probleem met hierdie taktiek het nie? Joernaliste met wie ek hierdie week gesels het, sê "as jy te veel weet", is jy in gevaar. Selfs binne die etiese joernalistieke omgewing word daar nou getwyfel oor die redaksionele onafhanklikheid van sekere joernaliste. Vir maande word daar al gespekuleer oor verslaggewers wat met duur geskenke soos motors omgekoop word om maar eerder ‘n "storie af te water". Die feit dat onverantwoordelike jongelinge binne die ANC Jeugliga in die openbare arena poog om joernaliste te diskrediteer, wys hoe ver die tentakels van hierdie vergiftiging reeds versprei het. Wat mens net laat wonder of ‘n mens se lewe werklik opgeweeg moet word teen die publikasie van ‘n kontroversiële storie?
|