|
Written by Lowvelder Editor - Tuesday, 03 November 2009 00:00
|
|
NELSPRUIT - Inwoners van Burnside is keelvol vir die toestand van dié pad. Me. Rouxanne Vivier sê sy moes reeds R46 310,76 opdok na skade aan haar motor. Volgens inwoners word die pad nie effektief in stand gehou nie en help dit ook nie of jy jaag of kruie nie - die effek bly dieselfde, ‘n geskud en gerammel wat omsit in donderbuie onder inwoners. Sand word losweg oor die sinkplaatpad gestrooi en word binne ‘n week weer afgery. Die Laevelder het gaan ondersoek instel en gevind dat inwoners geldige rede het om te kla. Daar blyk wel ‘n langtermynoplossing in die pyplyn te wees. Die provinsiale paaie departement sê dat daar in samewerking met die inwoners gekyk sal word om die pad te laat gruis. Inwoners sal die gruis voorsien terwyl die departement op uitgesoekte plekke sal grawe vir die gruis wat benodig sal word. Dit sal eksklusief aangewend word vir die verbetering van die Burnside-pad en nie vir die opgradering van ander paaie nie. Daar is ook onderneem om die gruisgat te rehabiliteer na afhandeling van die grawery. Die ontginde materiale word steeds getoets en ‘n memorandum van verstandhouding sal geteken word sodra dit afgehandel is. Die streekskantore sal die pad aanhou skraap tot die ooreenkoms geteken is. Volgens me. Dot Kruger, oorweeg sy dit om ‘n eis teen die departement in te stel, want haar Mercedes kort gereeld nuwe skokbrekers en ander herstelwerk. "Daar is ‘n houding maar geen verstandhouding nie," sê sy omtrent die departement se hantering van die kwessie. "Ons soek dit op skrif," sê sy. "Die pad moet oorgebou word, want met elke skraap versleg sy toestand," sê me. Lani Bester wat byvoeg dat die pad haar al "vier bande in die bestek van drie weke uit die sak gejaag het." Volgens mnr. Steven Meyer, wat ‘n vierwielaangedrewe voertuig ry, het die Burnside-pad al bykans R8 000 se skade aan sy voertuig aangerig. Hy sê sy landheer het hom reeds in kennis gestel van die memorandum en hy is "bly iets word eindelik aan die pad gedoen." Daar behoort teen einde Oktober uitsluitsel te wees oor die gehalte van die ontginde gruis, waarna herstelwerk aan die pad oplaas sal begin.
|